KAROO TUISKOMS

Nes ’n perd wat ’n pad goed ken volg die kolliehond Sarie die stofpaadjie langs na die windpomp. Dit is ’n daaglikse roetine. Een wat heel winter lank al aanhou. Die enigste verskil is dat dat Sarie nie meer haar stewels of dik jas hoef te dra nie. Die luggie is koel, maar die ys is weg. Die vrolike blomme wat die veld rond staan is bewys dat die Here tog genade het. Elke winter voel dit of Hy sy kinders verlaat. Die veld is dor en droog en ys lê dikwels tot laat oggend op die stofpad.
Sarie ken van koue. Nie net as gevolg van die winter of haar leë bed nie. Daar is ’n blok ys om haar hart. Hierdie jaar bring die lente nie juis vir haar hoop nie. Sy het maande laas van Gerhard gehoor. Hoe verdwyn jou man sommer net so? Leef hy nog? Is sy hart nog warm, of soos hare, gevries.
Sy sak neer op die houtbankie onder die windpomp. Die kollie gaan lê by haar voete.
Verna staan met arms gevou in haar knus kombuis en bekyk die twee. Die een is net so misrabel soos die ander. Dit kan sy hanteer, maar sy kan nie verstaan hoekom Sarie deesdae die Bybel op die tafel los nie. Sy het dit getrou saamgevat elke oggend. Deesdae sit sy net daar en staar voor haar uit. Verna is oortuig daarvan dat sy nie eers die blommeskou voor haar raaksien nie.
“Ag Here, waar is Gerrie? Kyk hoe swaar kry my kind Here! Dit vreet my op. Sy vergaan voor my oë en daar is niks wat ek kan doen nie.” Sy vee ’n traan met die agterkant van haar meelhand af. “Doen asseblief tog iets Here. Ek vra mooi.”
Die lammers se geblêr laat Sarie van die bankie opstaan. Die kollie draf nuuskierig nader aan die kraal. Sy stamp die stof van haar skoene af voor sy by die kombuisdeur ingaan. Verna kyk bekommerd na haar dogter.
“Daai lammers het ’n ingeboude klok. Gaan jy regkom vandag? Ek wil eers die brood in die oond kry.” Sarie knik. Dit sal nie veel meer moeite wees om die lammers self te voer nie. Sy het buitendien niks anders wat haar aandag verg nie.
“Wanneer lewer die koöperasie nuwe melk af? Hierdie blik gaan net hou tot Maandag se kant.” Sarie skep die poeier in ’n emmer water en klits dit.
“Ek sal vandag weer bel. Hulle het gesê hulle lewer die week nog af. Onbetroubare spul. As Gerrie nog …” Verna lig haar kop en kyk dan jammerlik na Sarie.
“Ag my kind. Ek het nie bedoel …” Sarie vat haastig die mandjie met die bottels en en die emmer melk.
“Ek’s buite,” sê sy en haas haar na die lammers. Die melk klots teen die rand van die emmer.

Die geblêr laat hom opkyk. Daardie klank het hy gemis. Die tronk was donker en behalwe vir ’n gefluister was dit stil. Skape was die rede waarom hy Lesotho toe gekom het. Sy kennis en die program om Lesotho se wol produksie te help sou hom ’n week hier gehou het. Amper vyf maande later kan hy uiteindelik huis toe gaan. Net die gedagte aan sy soet Saartjie het hom laat aanhou hoop.
“Ek hoop jy het op my gewag my lief,” fluister hy. Gerhard tel sy groen paspoort van die polisiekantoor se toonbank op en hou dit teen sy bors. Hy word amper by die gebou uitgesmyt. Selfs nou dat hy vrygespreek is, word hy soos ’n misdadiger behandel. Hy is onskuldig. Daardie dwelms het nie aan hom behoort nie. Hy het geen idee gehad dat dit in die huurmotor weggesteek was nie.
Na al die maande in die tronk kan hy nie glo dat hy kan huis toe gaan nie. Die nagmerrie is uiteindelik verby.
Met  nie ’n enkele sent op sy naam nie, verkoop hy sy skoene om die taxi fooi tot by die grenspos te betaal. Hy kry ’n geleentheid tot naby Bloemfontein en dan ry hy verder in ’n trok tot by Calvinia. Gerrie kan aan niks anders dink as sy vrou en die feit dat hy op pad is huis toe nie.
Kaalvoete en met ’n amper vyf maande oue baard stap hy die twaalf kilometer van Calvinia na hulle plaas Oggendsrus.

Sarie sukkel met een van die bottels. Die tiet bly afspring en sy is al taai van die melk. Die arme lammetjie is ook gefrustreerd. Sy klem die tiet vas en laat die lam sy melk klaar drink. Verna vee haar nat hande aan haar voorskoot af en skuur by die klein hekkie van die kraal verby.
“Watter lammers moet nog drink?” vra sy en tel twee bottels op.
“Net die drie hier,” wys sy. Verna weet die lam met die swart kop drink moeilik en knyp hom tussen haar bene vas terwyl sy hom help om die tiet in sy bek te kry.
“Die koöperasie sal Maandagoggend eerste ding aflewer. Ek het gesê ek weier om weer daar te koop as ons so afskeep gaan word.”
“Hulle vat ’n kans. Ek wil nie hê ma moet dink ek is ongeskik nie, maar ek gaan liewer Maandagoggend in my kamer bly. Sê maar ek is siek of iets.”
“Wat dan nou? Jy weet ek lieg en bedrieg nie my medemense nie, Sarie.”
“En ek verraai nie my man nie Ma.”
“Wat praat jy nou van verraai?”
“Gerrie gaan huis toe kom! Ek weet mense het klaar opgegee en aanbeweeg maar ek het nie. My man leef nog.”
Verna sluk swaar en vryf liefdevol oor haar dogter se blaaie.
“Ek weet dit my kind.”
Die lammers spring rond en speel in die kraal. Sarie is tevrede dat hulle mooi groei. Sy tel die mandjie met die bottels  en die leë emmer op.
“Ek sal moet kyk hoekom die tiet bly afgly. Dalk is dit die bottel. Het ons ’n ekstra een in die …” Die frons tussen haar oë laat Verna ook na die pad kyk. Die emmer en mandjie gly uit Sarie se hande. Verna se saamgevoude hande hou haar mond toe. Sarie wil hardloop maar haar voete voel vasgesement.
“Mamma. Is dit …?” Verna se trane loop vrylik oor haar ronde wange.
“Waarvoor wag jy liewe kind?”

Met ’n hand vol veldblomme wat hy spesiaal vir sy sagste Saartjie gepluk het, loop hy die bekende stofpad na die plaashuis. Maar toe hy haar daar sien staan in die skaapkraal kon hy sy emosies nie meer beheer nie. Met sy teer, kaal voete hardloop hy verby die windpomp. Die kolliehond blaf opgewonde en is eerste by hom. Met sy vry hand vryf hy oor sy geliefde hond, maar sak op sy knieë neer toe Sarie aangehardloop kom. Hy gooi sy arms oop en omhels sy vrou. Sy soen hom op sy kop en net waar sy plek kry op sy gesig.
Verna kan haar geliefde kinders nie sien nie. Sy sit op haar knieë agter die kraalmuur. Haar oë kyk op na die hemel en haar lippe getuig van Sy goedheid. “U het my gehoor my God, my Skepper. In U goedheid en getrouheid sal ek nooit twyfel nie.”

(Soos verskyn in SA-Skrywers Afrikaners is Plesierig Bundel)

'N DIGTER SE HART

As ek gaan sit en terneergedruk
‘n pen verlos van stof,
bloei die inkpunt vrylik uit
skeppend op papier.
Bladsy na bladsy stoei die hand
moeitevol die nuweling neer,
worstelend vir ure lank
tot die einde sê hys hier.

EK WORD STIL

As ek stil word en ek luister
kan ek baie dinge hoor,
soos my God se stem wat fluister
en die sang van engele koor.

Ek hoor duisend hallelujas
en ’n honderd keer amen,
alles klanke van die hemel
en ons God se eie stem

Ek hoor klippe wat Sy naam roep
en selfs blomme wat Hom prys,
elke wese elke asem
loof in hemelse gedruis.

(Soos verskyn op Avbob webtuiste 2017)

VAKANSIE ROMANSE

Soos ‘n lied in my kop wat nooit end kry,
sal jou soene my altyd by bly
en die vat van jou hand sal ek ewig ja altyd onthou.
Jou beeld voor my oë wil nie weggaan
en dis jy wat my asem nog wegslaan,
want ek dink elke dag elke nag ja die heeltyd aan jou.
Met die geel sambreel op die wit sand
en ‘n pienk draai roomys in een hand,
het ek jou eerste gesien en totaal ja geheel kop verloor.
Ons vakansie romanse was magies,
ons woorde en soene was saggies,
jy kon my verlei ja net jy kon so met my toor.
Maar te gou het die tyd ons gevang,
ek kon raai dat ek sou verlang
na die sonskyn en branders en jy wat so langs my staan.
Nou sien ek jou net op Facebook,
as ek middae na werk vir jou naam soek,
maar ek sien ja ek weet jy’t my lankal gelede laat gaan.

(Soos verskyn in SA-Digters See en Sand Bundel)

MY KANTOOR

Deur my kantoor se venster sien ek ’n paradys,
daar’s ’n laksman op ’n klip en ’n eekhoring in sy huis.
Soggens vroeg is dit ’n voëlgesang wat deur my venster waai,
daar’s ’n skilpad wat wil wegkruip en ’n aap wat woes rond swaai

Hoe moet ek my werk doen as ek hulle so aanskou?
Ek is mos nie ’n slaaf nie net ’n dood gewone vrou.
Ek wil tussen hulle rondloop, ek wil saam vir goggas jag,
maar nou kruip ek agter glas weg tot die einde van die dag.

Wie gaan my bevry van hierdie glashokkie kantoor
Is enigiemand braaf genoeg? Kan niemand my dan hoor?
’n Suikerbekkie vlieg tot naby aan my ruit
en ek skrik my amper boeglam toe Jan Frederick begin fluit.

Ek smag om saam die diere in die takke te baljaar,
maar in my hart besef ek dit is beter om te staar,
na die verruklike natuurskoon wat elke dag ontvou,
en wat ek verlangend deur my glas hok dop kan hou.

WEGBREEK

Ek haat dit dat ek omgee
oor wat jy van my dink.
Ek haat dat jy my bootjie
met net een kyk kan sink.
Ek is nie meer ‘n kind nie,
ek weet wat ek wil hê.
Dis nie meer vir jou nodig
om vir my voor te sê.
Hoekom dan met elke vraag
Kyk ek weer na jou?
Terwyl jy jou verlustig
as die grysheid my omvou.
Dis jou skuld dat ek half is,
dis jou skuld dat ek skuil.
Dis jy wat nie kan los nie,
en ek wat aanhou huil.
Dis beter dat dit eindig
met hierdie brief aan jou.
Terwyl ek nog half mens is,
voor haat my heel op kou.
 

LIEFSTE ANNA-MART

Anna-Mart my appeloog,
vir jou pluk ek die reënboog.
Die pot van goud kan jy maar kry,
solank jy sê jy’s lief vir my.
Want wat ek voel my Anna-Mart
is meer as wat my hart kan vat.
Sê my tog,
hoe jy oor my voel.
Is dit net ek?
Of is ons bedoel
om ‘n lewe saam te bou.
Ek is kop oor stert verlief op jou.
Anna-Mart sal jy met my trou?
Want dis net jy my liefste Anna-Mart.
My appeloog, my droom vrou.

15 Julie 2018

FAMILIE TWIS

Elke vyf jaar is dit sulke tyd. Die Jonker familie hou reünie. Oom Adriaan poets sy Toyota-bakkie al ’n jaar voor die tyd. Die een wat versuim om hom op die bakkie se kondisie te komplimenteer sal wel teen die einde van die reünie hoor dat hy of sy uit sy testament gelaat gaan word.
Niemand se wiele is so swart en so blink soos neef Willem s’n nie. Aardjie na sy vaartjie. Die enigste verskil is dat neef Willem meer omgee vir die pistool aan sy sy. Hy weet maar te goed dat die manne hier gaan opdaag met enige ding wat ’n koeël kan skiet. Hy oefen al maande lank op die plaas. Vra maar vir tannie Jess. Die windpomp was voos geskiet, toe oefen hy maar verder op haar groentetuin se hekkie. As sy ooit daardie pistool van sy lyf af kan kry, gooi sy dit in die rivier.
Ouma en tannie Bets het resepte uit oumagrootjie se trusou kis gaan steel, want saam met die reünie kom die melktert kompetisie. Die kompetisie was nooit amptelik aangekondig nie, maar moenie dink dit maak dit minder ernstig nie. Al is die vroue baie opgewonde om mekaar weer na vyf jaar te sien, hou die vriendelikheid net tot Saterdagmiddag teetyd. Dit is dan wanneer die naels uitkom.
Die kompetisie is eintlik net tussen die tantes maar vandat nig Sandra verlede jaar opgedaag het met die wen resep weet niemand wat om dié jaar te verwag nie.
“Oom Arrie, jou bakkie blink so ek kon vanoggend my baard skeer in die weerkaatsing,” terg Heinie. Oom Adriaan glimlag tevrede. Heinie is ’n plaas seun in murg en bloed, maar sy pa wou nie hê dat hy boer nie. Hy is ’n boekhouer en werk al ’n paar jaar lank in die stad. Hy is gelukkig daar, maar ’n naweek op die plaas sal hy vir niks verruil nie. Dit gee hom ook ’n kans om sy mooiste half-nig Katie te sien. Sy is ’n juffrou en Heinie sal nie omgee dat sy hom ’n paar lesse gee nie, half-niggie of te nie.
Heinie lig sy keps toe Katie en haar ma verby stap. Sulke mooi lang bene kan hy heeldag na kyk. ’n Klap teen sy kop laat hom koes en omkyk.
“Wat dan nou?” vra hy.
“As ek jy is konsentreer ek minder op haar bene en meer op die feit dat sy mince meat van jou gaan maak.”
“Ek’s nie by nie,” frons Heinie.
“Die skiet kompetisie. Storie loop dis nie neef Willem waarvoor jy moet oppas nie. Sy het glo gister oom Gert se drie-nul-drie geskiet. Op dertig meter was sy twee sentimeter van die kol af.”
“Katie? Nooit. Sy’s te fyn vir so ’n rowwe sport.”
“Sê maar net wat gehoor het,” sê neef Franco en klap hom op die skouer.
Heinie loer weer in haar rigting. Nee wat, dink hy. Sy moet maar eerder aan die melktert kompetisie deelneem.
Met net ’n klein rukkie voor teetyd kloek die vroue om die yskas om seker te maak dat niemand hulle gebak saboteer nie. Ouma en tannie Bets se skelm kykies en fluister praatjies is ’n teken dat daar klaar met iemand se melktert gepeuter is.
Buite is die manne besig om hulle skietgoed re te kry. ’n Paar mammas hardloop verwilderd rond om hulle kleingoed van die oorlogsone af weg te hou. Heinie sien vir neef Willem wat klaar na die teiken mik. Oom Adriaan staan trots agter sy seun en stoot sy bors uit. Waar hulle die idee gekry het dat hulle die beste skutte is weet niemand nie. Dalk omdat hulle die enigste gesin is wat verniet ammunisie kry by daai korrupte polisieman-vriend van oom Adriaan.
Die manne staan en wag vir die vroue om die koffie en melktert buitentoe te bring. Hulle mag eers begin skiet nadat elkeen ’n stukkie melktert gekry het.  Tannie Bets deel eerste uit. Elkeen van die veertig familie lede kry ’n stukkie melktert. Daarna word die een na die ander melkterte uitgedeel. Meeste ‘oe’ en ‘aa’ en komplimenteer die vroue op hulle gebak. Die mans proe skaars wat hulle eet en party los sommer hulle bordjies met melktert net so op die tafel sodat die skietery kan begin.
Tannie Erna, die oudste van die tantes, besluit elke jaar wie se melktert wen. Sy bak nie self nie en sy is nie vriendelik met enige van die ander vroue nie. Haar opinie is so eerlik dat dit sy al menigte tantes in trane gehad het met haar skerp tong. Sy laat haar ook nie aanjaag deur die manne se lawwe skietery nie.
Terwyl van die vroue om haar kloek, staan ander weer en byt hulle naels. Tannie Erna sit rustig op ’n tuinstoel en ontleed elke happie tert. Nadat sy klaar is met een stukkie melktert vat sy eers ’n slukkie koffie sodat haar smaak sintuig haar nie in die steek sal laat nie.
Nes tannie Erna haar koppie koffie van die piering optel klap die eerste skoot. Sy hop in haar stoel en mors van die koffie maar gelukkig val die koffie in die piering. Die vroue staan groot oog en kyk na haar reaksie, maar met net een kwaai kyk in die mans se rigting gaan sy weer voort met proe.
Neef Willem spring rond soos ’n kind op Kersoggend. Hy kan nie wag om te skiet nie. Uiteindelik gee oom Hans die teken en Willem gaan staan die afgesproke twintig meter van die teiken af. Hy kry net twee kanse om die die kol te tref. Katie staan naby ’n boom en bekyk die petalje. Toe neef Willem se eerste skoot klap weet sy sommer hy het gemis. Die seun pluk die pistool opwaarts as hy skiet en dit is taboe. Die reaksie van oom Adriaan en die ander manne bevestig haar vermoede. Niemand sê ’n woord nie, want hulle weet dat Willem nog met sy pistool in die hand staan. Oom Adriaan hou sigbaar sy asem op toe neef Willem weer mik. Die skoot klap maar daar is nie ’n merk op die teiken nie. Katie skud haar kop.
Met ’n rooi gesig en baie stories staan neef Willem en verduidelik presies wat vir hom verkeerd geloop het. Die teiken is te laag. Bo en behalwe dit was sy hande te natgesweet. Hy sweer hoog en laag dat hy baie beter sal vaar as hy sy handskoene onthou het. Almal lag hom uit behalwe oom Adriaan. Hy beaam alles wat die seun sê.
’n Paar ooms probeer die teiken raak skiet maar vaar nie veel beter as Willem nie. Om ’n teiken op twintig meter met ’n pistool raak te skiet is nie baie maklik nie. As die sand nie boë trek voor die teiken nie dan sing die koeël soos dit die vlakte in vlieg.
Uiteindelik is dit Heinie se beurt. Die arme man besit nie eens ’n pistool nie, maar leen een by oom Gert. Voor hy mik sien hy vir Katie by die boom. Sy staan geïnteresseerd en kyk na hom.
“Wag manne. Ek dink dit is net goeie maniere om dames eerste te laat skiet.”
Van die mans kyk om hulle rond. Skiet is mos nie ’n vroue ding nie. Oom Gert en oom Adriaan weet egter dat daar net een vrou op die plaas is wat sal wil skiet en kyk dadelik na waar Katie staan. Meeste mans glimlag net vir die fyn meisietjie, maar die wat haar al in aksie gesien het knik hulle koppe.
Katie tel oom Gert se pistool op en vou haar klein handjie om die koue stuk staal. Wysvinger vorentoe tot sy reg is om hom op die sneller te sit. Met haar linkerhand hou sy die onderkant van die pistool vas. Nie te styf nie, nie te slap nie. Sy laat haar twee duime langs mekaar lê nes haar boek gesê het. Sy trek die sneller. Stadig. Sy haal rustig asem maar haar hart klop al vinniger. BA! Klap die skoot. Die swart kolletjie op die teiken is bewys van presies waar die koeël die teiken getref het. Sy mik weer. Stadig trek sy die sneller tot die tweede skoot klap. Niemand sien ’n tweede swart kolletjie nie. Sy sit die pistool neer en glimlag vir Willem wat met wenkbroue omhoog na haar kyk. Hy verlustig hom in die feit dat Katie gemis het.
Katie loop na die teiken en die manne volg haar, te bang om iets te mis.
“Daarso,” sê sy en wys na waar die eerste gaatjie effens groter gemaak is deur nog ’n koeël wat daar deur is. Die manne knik hulle koppe en oom Gert swaai haar in die rondte.
“Jou pa sou so trots gewees het my meisiekind,” sê oom Gert.
“Dankie, Oom,” sê sy.
Heinie kan sy oë nie glo nie. Franco was reg, die meisie skiet asof sy weermag toe was. Daar is nie ’n manier waarop hy twee koeëls deur dieselfde gaatjie kan stuur nie. Hy staan in elk geval reg om sy beurt te vat.
Sonder om te bewe klap die eerste skoot. Die swart kolletjie sit op die teiken net onder Katie s’n. Nes hy regstaan vir sy tweede skoot gil iemand. Heinie skrik, kyk om en daar klap die skoot. Dit laat nog meer vroue in ’n toestand en meer mense gil. Die klein kindertjies begin huil en die mans hardloop na hulle vroue. Heinie probeer sien wat hy raak geskiet het. Die koeël het nie gevlieg nie en hy kon duidelik hoor toe dit iets tref. Hy kyk om na Katie wat na die opslaan swembadjie loop. In die kant van die swembad is ’n ronde gaatjie en die water loop daardeur. Heinie sug van verligting.
’n Geskree laat Katie en Heinie ook na die vroue hardloop. Daar is groot fout. Nes hulle by die teetafel aankom sien hulle vir tannie Erna daar staan met ’n bloedrooi gesig. Sy is duidelik erg ontsteld. Tannie Miems is in trane en Ouma en tannie Bets is nêrens te sien nie.
“Bedaar nou Erna. Wat het gebeur?” vra oom Adriaan.
“Sy is besete!” skree tannie Erna, “Probeer my vergiftig! Die klein feeks!”
Almal wat vir tannie Miems ken weet die tingerige vroutjie sal nie ’n vlieg seermaak nie.
“Wag nou Erna, hier is ’n misverstand. Waar is Bets?”
Franco verdwyn en kom na ’n rukkie terug met tannie Bets en Ouma. Die twee is spierwit geskrik.
“Tannie Miems, my ma en ouma het iets om vir Tannie te sê,” sê Franco.
Met hulle hande saamgevou en hangende skouers vra hulle vir tannie Miems om verskoning. Dit is hulle wat die appelasyn in tannie Miems se melktert ingemeng het. Hulle het geweet sy gaan wen. Tannie Erna wip haar vir die twee en gaan pak haar tas. Die reünie is amptelik verby. Almal sal mekaar eers weer oor vyf jaar sien as tannie Erna ooit oor die skok gaan kom.
Heinie en Katie loop na waar hulle teiken geskiet het. Nou moet Heinie ook vyf jaar wag voordat hy kan wys wat in hom steek. Neef Willem loop dikmond verby hulle na sy bakkie met die pikswart wiele.
“Sy gee lesse,” skree Heinie in sy rigting.
“Wat sê jy?” vra Willem kwaai.
“Ek sê Katie gee skiet lesse. Elke middag as sy klaar is by die skool.”
Willem wip hom erger as tannie Erna. Hy klim in sy bakkie, jaag tot by hulle en rol sy venster af.
“Jy soek vir my Heinie!” sê hy kwaai.
“Jy kan altyd laat tannie Miems vir jou ’n paar bak lesse gee. Lyk my die skiet ding is nie vir almal nie.”
Katie stamp vir Heinie met ’n elmboog.
“Sies Heinie, was dit nou nodig?”
“Jammer, maar dis die waarheid. Die man kan nie skiet nie.”
“Kan jy?” vra Katie met ’n stoute kyk in haar oë.
“As ek sê nee, sal jy my leer?”

5 Julie 2018

VERLANGE NA DIE OU HALLO - 'n rubriek

Ek dink vandag aan die telefoon van jare gelede. Om ’n oproep te ontvang was een van die lekkerste dinge wat daar was. Om een te kon maak was die tjerrie op die koek. Ma en Pa het ’n staande afspraak gehad met Ouma. Elke Sondagmiddag teen vieruur sou die foon lui. Ek het so gehoop hulle is êrens besig sodat ek die een kan wees wat antwoord.
“Dubbel vier, dubbel twee, sewe hallo.” So het ons almal die foon geantwoord. Daardie nommer sal my altyd bybly. Selfs al het die nommers in latere jare verander sit dié een vas in my kop soos ’n vlieg in ’n spinnerak.
Dit is tragies om te dink hoe dinge in die vyf laaste-en-twintig jaar verander het. Skielik loop elke ou rond met ’n selfoon in sy sak. Oproepe is ook nie meer dieselfde nie. As dit nie ’n Whatsapp oproep is nie kan jy maar weet, iemand wil iets aan jou smous.
Die foon wat eers die hoogtepunt van ’n mens se dag was, het nou ’n pyn in ’n ongemaklike plek geword. As ek nie die nommer herken nie antwoord ek nie. Is dit nie bietjie ongeskik nie? sal jy vra. Dalk, maar as jy die foon antwoord en ’n robotiese stem skree in jou oor, “Druk een as  jy meer wil uitvind…” Dis net daar waar ek die foon dooddruk en die nommer summier blok.
Op een of ander manier sal die robot jou weer opspoor en van ’n ander nommer af skakel. Dalk nie dieselfde dag nie, maar jy kan maar weet, hy is op jou spoor. Sy vermoë is bomenslik. Hy weet presies wanneer jy op ’n Saterdag ’n middagslapie wil vat. Hy wag tot jy ten minste tien minute lank vas slaap dan sit en lag hy vir jou wat die foon met ’n dowwe kop en sleeptong antwoord.
Bo en behalwe die probleem-oproepe sit mens nou ook met verslaafdes. Mense van alle ouderdomme ly hieraan, maar dit is veral die jeug wat swaar trek. Die klein onskuldige swart foontjie wat so maklik in jou broek se sak pas is ’n wip! As jy eers gevang is in daardie wip is daar nie uitkomkans nie. Jou oë moet ure lank boet deur onbenullige boodskappies te lees, ander mense se doen en late te ‘like’ en na die kerkkoor se oefening te luister wat dominee sopas opgeneem en op die kerk-groepie ‘geshare’ het.
Jy is ’n gevangene en dit is jou vonnis. Hierdie foon-robot-spinnerak het jy toegedraai in sy taai web. Daar is net een manier om van hom ontslae te raak. Gooi die sak-pas foontjie dadelik in die see. Moenie terugkyk nie. Jy sal dalk nie in ’n soutpilaar verander nie, maar ek belowe jou jy gaan nie veel beter daarvan afkom nie. Ry dadelik na die naaste oudhede winkel, koop vir jou een van daardie ou ring-telefone en prop hom by die geel blokkie teen die muur in. Wag vir die foon wat dalk een keer per week lui. As jy antwoord doen dit soos jy dit daardie jare gedoen het.
Dubbel vier, dubbel twee, sewe hallo. Dubbel vier, dubbel twee, sewe, ek mis jou.

27 Junie 2018

VIR MY

Bring vir my sonskyn,
gee my ‘n lied,
wys my ‘n hart wat nog hoop.
Is daar nêrens meer liefde?
Iemand moet weet,
waar ek net ‘n bietjie kan koop.
Vandat jy weg is,
is ek ook nie meer,
my menswees het saam jou geloop.
Bring vir my sonskyn
of gee my ‘n lied,
net iets om myself aan te knoop.

16 Maart 2018

EK EN JY

Soms raak dit eensaam
hier by my alleen.
My dae lyk donker,
my binneste ween.

Tot jy jou gesig wys
en die son daaruit straal.
Jy maak my wakker,
jy praat my lyftaal.

Sonder jou is ek niks nie,
net ’n skadu, alleen.
Saam is ons alles,
ek en jy is net een.

9 Desember 2017

MY OUMA SE KOMBUIS

My ouma se kombuis
ruik na koffie en anys
en die melk is met ’n doilie toegemaak.

Saam met ouma mag jy kook
as jy self die vuur kan stook
en die voorskoot op die regte plek kan haak.

By my ouma leer jy bid
en in die kerk stilsit
om te luister na die dominee se saak.

My is soos goud
al is sy baie oud
sy’t my lewe met haar liefde aangeraak.

19 November 2017

AMELIA

Die houttrap kraak onder Amelia se voete. “As jy nog stadiger klim gaan jy stilstaan,” sê Fanie ongeduldig. Amelia maak of sy hom nie hoor nie. Dit is haar oupa se huis en sy kan so vinnig of stadig klim as wat sy wil. “Moet jy altyd alles aanjaag?” fluister Maureen met ’n kwaai kyk in sy rigting. “Ek is nie bang nie julle, dis net, ek hou nie van hoogtes nie.” Fanie gee ’n snork en Amelia weet, sy bluf niemand nie.
Sy was nog nooit op Oupa se solder nie. Oupa was seker vyf jaar laas daar bo. Hy was net te swak en nou is hy weg. “Ek wens my oupa het vir my ’n huis gegee toe hy dood is,” sê Fanie. Amelia frons, maar kyk nie terug nie.
“Hoe kan jy so onsensitief wees?” sê Maureen deur haar tande. Hulle albei kyk op na Amelia wat met ’n slakkegang een voetjie bo die ander sit. “Dis okei Maureen, ek’s okei.” Maureen skiet nog een doodskyk Fanie se kant toe. “Ek’s op, wie’s volgende?” sê Amelia. Sy wil nie alleen bo op haar oupa se solder sit nie. Fanie gryp die houttrap vas en klim dit sonder moeite uit. “Ongelooflik!” sê hy, “’n hele solder vol stof.” Maureen steek haar neus deur die gat in die dak en nies kliphard. “Dis nie so erg nie,” sê sy terwyl sy haar neus vryf.
Fanie loop tot by die naaste houtkis en gaan plak homself neer op die deksel. “Maak my wakker as julle klaar is,” sê hy en gaan lê op die naat van sy rug.
“As mens net beter kon sien,” sê Amelia en loop skuif skuif nader aan die dun strepie lig wat van die kant van die solder af instraal. Met ’n gesukkel kry sy die blinding tot bo getrek. Maureen trek skerp haar asem in en Amelia kyk dadelik om sodat sy kan sien, maar die skielike sonlig het haar tydelik verblind. Soos haar oë aan die lig gewoond raak sien sy dit ook. ’n Trourok op ’n mannekyn. Die fynste kant wat met ouderdom ’n vaal geel geword het. “Ag, is dit al,” sê Fanie en laat sak weer sy kop op sy arms.
“Is dit jou ouma sin gewees?” vra Maureen.
“Ja, ek het dit al op foto’s gesien,” sê sy terwyl sy ligweg aan die mou van die rok voel. “Ek dink ons moet daar begin,” sy wys na die bokse wat op ’n hoop in die hoek staan.
Sy en Maureen begin die een boks na die ander oopmaak en deur die inhoud gaan. “Ek wens ek het geweet wat dit alles beteken,” sê Amelia met ’n stokou bruin bevlekte papier in die hand. “Dit lyk belangrik, dalk moet jy dit maar hou,” sê Maureen en Amelia stoot die boks eenkant toe. “Die een is vrek swaar,” sê sy terwyl sy sukkel om ’n boks van die toring bokse af te tel. “Wag ek help jou,” sê Maureen en kyk gefrustreerd om na waar Fanie lê en slaap. Die boks is goed toegeplak en Maureen sukkel om die kleefband los te trek. “Fanie! Jy is hier om te help en ons het hulp nodig,” sê Maureen kwaai. “Mag ’n man nooit rus nie?” mompel hy en staan nader aan waar hulle met die boks sit en stoei.
“Laat die ridder op sy wit perd tog net, LIEWE GENADE!” Hy bêre sy knipmes in sy sak sonder om sy oë van die boks se inhoud af te haal en gee ’n lang fluit. “Of ek droom of jou oupa was iemand baie belangriks.” Amelia en Maureen kyk hom verward aan. “Julle! Hierdie is tweede wêreldoorlog gedenkwaardighede.” Amelia skud net haar kop.
“My oupa was nie deel van die Tweede Wêreldoorlog nie,” sê sy, maar  weereens oortuig sy niemand nie. Fanie se mond trek op ’n plooi. Hy haal die uniform versigtig uit die boks. “Kyk hier, is dit nie jou oupa se naam nie?” Amelia loer na die nek van die ou bruingroen baadjie. “Ja, dit is, maar ek verstaan nie.” Fanie lê die baadjie op die boks neer en voel aan die blou en rooi lint voor hy die wit en silwermedalje optel. “Jou oupa was ’n held.” Maureen nies nog ’n keer en vee haar neus met die agterkant van haar hand af. “Hoe seker is jy hiervan Fanie? Hy trek seker weer net jou been Amelia.” Die keer kry Maureen ’n vuil kyk.
“Ek is ernstig Amelia, hierdie goed, dis alles, ongelooflik.” Hy skud sy kop en loer weer in die boks in. “Hy was ’n vlieënier in die oorlog en hy moes vrek goed gewees het, want hierdie,” en hy swaai sy arm oor die boks, “is nie iets wat elke tweede ou ontvang het nie.” Amelia staan verstom en kyk na die boks en die baadjie op die vloer. “Ek dink ek het genoeg gesien vir vandag,” sê sy en begin terug loop na die gat in die dak. “Maar hier is nog so baie goed,” sê Fanie, “kan ons net nog een boks,”
“Kom Fanie,” sê Maureen, “dis nou genoeg vir een dag.”
Nadat hulle lemoensap gedrink het, is Fanie en Maureen huis toe. Amelia was die glase, maar haar gedagtes is bo op die solder. “Wie was jy oupa? Hoekom het jy nooit oor daardie dae gepraat nie?” Die houttrap trek haar soos ’n magneet en sy klim dit versigtig uit. Die baadjie lê nog net so op die vloer. Sy tel dit versigtig op en sit dit op die houtkis waar Fanie gelê het. Sy trek die swaar boks nader aan die venster sodat sy beter kan sien, en haal nog medaljes en foto’s uit die boks asook ’n bruin hoedjie met ’n embleem op. Sy druk dit styf teen haar bors vas. Hoekom het ouma Ammie ook nooit iets gesê nie, of was dit voor haar tyd? Sy loer nog ’n keer by die boks in en sien hoekom die boks so swaar is. Daar is seker ses dik boeke onder in die boks. Sy haal een versigtig uit en maak die broos boek oop. Die vaal bladsye laat haar dink aan ’n seerower-kaart en sy voel met haar vinger oor die blou ink wat na soveel jare nog skerp ruik.
My liefste Amelia. Vandag vlieg ons Noord-Afrika toe maar moet jou nie bekommer nie, ek is veilig. Nie omdat ek enigsins die staal vlerke aan my sye vertrou nie, maar omdat ek vertrou op die vlerke van die engele wat my nooit alleen laat vlieg nie. Ek is, met my hele hart, lief vir jou. Joune en net joune, Frederick x  

6 November 2017

BANGBROEK HENNIE

Hennie sluk die laaste van sy swart koffie en gryp sy John Deere keppie van die tafel af. Die blink strikkie op die uitnodiging wat ook op die kombuistafel lê vang vir oulaas sy oog en hy vererg hom weereens. Hoekom daar verdomde skool reünies moet wees gaan sy verstand te bowe en nou dring sy ma daarop aan dat hy gaan. Hy het skool gehaat. Dag na dag moes hy luister na die gespot van die gewetenlose rugby span, “Hendrik en daar lê die eier.” Wat eens ’n trotse familienaam was, het vir hom ’n las en ’n nagmerrie geword daarom ken almal hom deesdae net as Hennie.
“Baas Hennie, daai hoender vreet nog steeds haar eiers,” sê William benoud toe Hennie sy kop by die huis uitsteek. Hy krap sy kop met sy wysvinger en sit weer die keppie terug op sy bruin krulle bos. “Kon jy al sien watter een dit is?” vra hy vir William wat bekommerd staan en rondtrap.“Nee baas Hennie, dit kan enige een van die drie henne wees.” Hennie voel hoe die bloed na sy ore vloei. Eers die uitnodiging en nou dit, kan die dag nie maar net oor begin nie. Hy wens hy het eerder in die bed gebly by Vabond. Want die vet weet, daai boerboel het nie een enkele bekommernis nie. “Vandag slag ek al drie daai batterye hoor wat ek vir jou sê.” William se groot oë is bewys dat Hennie nie gewoonlik so knorrig is nie en vir daardie rede trippel hy soos ’n gehoorsame hondjie al agter Hennie aan na die hoender hokke.
As dit windstil is soos vanoggend kan die reuk ’n man nogal onkant vang. Die hoender mis staan soos piramides onder die hokke wat  in die lug hang. Die gebou is skoon, die probleem is dat die hoenders net eet, eiers lê en ja, piramides bou. So vroeg na ontbyt kielie die stank jou neus en klou aan jou vel vir die res van die dag. Hennie kyk om en knik vir William sodat hy die drie moontlike slagoffers kan uitwys. “Hierso baas Hennie, dis hulle,” sê hy en wys verklikkend na die drie henne wat kekkel asof hulle ou vriendinne is.
Hennie bekyk die drie van nader en let dan op die klipharde eiergeel by sy voete op die sement vloer. “Watter een van julle drie eet my eiers huh?” Die henne kloek kloek voort asof hulle van niks weet nie. Hulle koeëlronde ogies loer eers van die een kant dan weer van die ander kant af vir hom maar hy kyk hulle stip aan. “Wat dink baas Hennie? Sal ons al drie vat?” William wil die storie so gou as moontlik afhandel want die varke wag vir hulle kos en hy moet nog vandag die ossies ook roskam. “Nie so haastig nie William, ek dink ek gaan hulle net ’n bietjie skrik maak.” William frons en sy ogies trek op skrefies soos hy probeer uitpluis net presies hoe die baas nou gaan maak om ’n hoender skrik op die lyf te jaag. Hennie se ken trek op ’n plooi nes sy oupa Hendrik sin ook maak as hy dink.
“Gee my jou mes,” se Hennie en hou sy hand uit na William.“Baas Hennie bedoel baas Hennie gaan hulle sommer net hier slag?” William sien al die bloed strepe teen die mure om nie eens te praat van die chaos wat gaan uitbreek as die ander henne bloed ruik nie. Hierdie henne is nie dom nie, hulle weet wat gebeur as hulle ophou lê en al is almal in hokke het hy al gesien hoe mal hulle raak as jy ’n droë hen hier uitdra. “Moenie laf wees nie William, gee my net die mes,” sê Hennie en hy hou sy hand die keer met mening uit. William staan nie nader nie maar leun net vooroor as hy die mes aangee. Eintlik wil hy eerder nader aan die deur staan maar baas Hennie sal dink hy is bang so hy bly maar waar hy is.
Hennie vat die mes by William en met ’n plooi tussen die oë kyk hy die drie henne aan. Hulle raak doodstil. Net hulle koppies draai soos hulle eers van links dan van regs na hom kyk. Een van hulle waag dit om ’n dapper “pik” te uiter en Hennie beweeg sy kop vinnig om na haar te kyk. Sy raak ook stil. Skielik ruk hy die mes van agter sy rug uit en swaai die blink lem voor die henne se oë. Die henne “paak paak paak” benoud en spring rond in die klein hokkie dat jy net sien vere waai. Hennie hou aan om die blink lem voor hulle oë te draai en dan  vra hy in ’n diep stem, “Wie van julle drie ertjie brein veer koppe eet my eiers?”
Die henne in die hokke langsaan het teen die tyd ook die blink lem gesien en tussen vere wat oral trek en ’n kakofonie van “paak paak paak” groei die piramides aansienlik voor William se oë. Hennie hou die lem regop en sê kwaai aan die drie henne, “Raak weer aan my eiers en dis klaarpraat met julle.” Dan beweeg hy die lem voor sy keel verby om aan hulle te wys net presies wat hy bedoel.William sluk swaar want baas Hennie dink nie mooi nie. Hoe sal ’n hoender dan nou verstaan wat hy sê. Hennie gee die mes terug aan William en skop aan die eiergeel op die vloer. Dan tref dit hom soos ’n hou teen die kop. Hy gaan sy voet neersit soos hy nou met die henne gemaak het. Hy gaan vir sy ma sê hy sal nie reünie toe gaan nie. Vir amper tien jaar al probeer hy oor die vernedering wat die skool hom gebring het kom. Hy is klaar met skool en klaar met die skool se mense. Later vandag as dit teetyd is, gaan daardie uitnodiging drom toe en klaar.
Hy kyk verskrik op na die geraas. “Hendrik! Kom nou dadelik hier,” skree sy ma van haar kamervenster af. Hennie haal sy John Deere keppie af en hardloop dat die stof so staan terug huis toe.

30 Oktober 2017

EK SAL WAG

Ek sit en staar verbitterd oor die see.
Daar’s geen rus, daar’s geen vrede
net heimwee.
Al spoel die branders honderd maal oor my.
Sal ek soek en aanhou soek
tot ek jou kry.
Hoe jy my hier kon los is wat my pla,
maar ek’s nog hier, ek bly net hier
tot jy weer opdaag.

25 Oktober 2017

SONDER JOU

Op die lang pad
met my leë hart
dink ek baie
net aan jou.
En my moeë lyf
kan net kopvryf
want ek wil
nie als onthou.
Ons beloftes
nou ’n eggo
van wat was
my liefste vrou.
En ek huil
in die stilte
eks gebroke
sonder jou.

22 Oktober 2017

LAASTE DAE

Ruik jy ook die reën se asem,
nat hout en grond en gras.
Voel jy ook die yswind snyend
deur jou dikste jas.
Sien jy nog die reënboog buite
as die son wil begin lag,
of kruip jy deesdae binne weg
afwagtend op die nag.
Hoe lank terug het jou stem gepraat,
wanneer laas het ek gehoor,
vasbyt, deurdruk, aan hou glo
hoekom nou jou moed verloor?
Al wat deesdae na iets proe
is die sout-traan op my wang,
soos ons woordloos totsiens sê
en stil stil terug verlang.

21 Oktober 2017

EK IS MARIETA

Ek wil nie jou simpatie hê nie. Gee dit aan die honger kindertjies in Noord-Afrika of aan een van die vele plaasmoord slagoffers, hulle verdien dit. Ek kon hierdie hele storie voorkom het. Dit is my skuld dat ek nou hier is. Ek kan niemand anders blameer nie al wil ek. Ek sien hoe jy na my kyk, dit is nie nodig nie, maar as jy wel graag iets vir my wil doen dan kan jy na my storie luister.
Nes jy het ek nie gedink so iets sou ooit met my gebeur nie. Ek het elke dag my vitamiene gedrink en drie keer per week gaan draf. Ek eet nie rooivleis nie en suiker word net op naweke geniet. Dit was helaas nie genoeg nie. Moet my asseblief nie jammer kry nie. Ek het ’n vol lewe gehad en is dankbaar vir elke ervaring wat oor my pad gekom het. Veral Nick. Ek en hy was saam op skool en sy plat op die aarde manier het my hart sag gemaak. Om nie eers van daardie potblou oë en dimpels te praat nie.
Deesdae is sy swart hare effe silwer maar hy is vir my nou selfs meer aantrekliker as ooit. Ons troudag was een van die mooiste dae van my lewe. Sonder skoene op die strand, nes ek dit nog altyd wou hê. Nie lank daarna nie is Natasha gebore en ons het na ’n jaar besef dat net die een woelwater genoeg is vir ons. Ek is nie spyt nie, ons kon haar soveel meer gee as wat ons vir twee sou kon gee. Sy is ’n regte klein diva en het vir Nick van dag een af net waar sy hom wil hê.Sy is en sal altyd my prinsessie wees.
Ek onthou daai eerste dag van skool, ek het so hard gehuil sy het net snesies aangegee, tipies sy. Naweke het ons kolwyntjies gebak en sy het hulle versier in pienk en pers, haar gunsteling kleure. Ek hou meer van geel. Daar is ’n geel rok in my kas wat Nick se asem wegslaan, maar nou sal dit soos ’n sak aan my hang. Dis jammer.
Hierdie storie van my laat mens ongelooflik baie terugdink en ek sukkel party dae om my emosies intoom te hou. Soos wanneer ek dink aan Tashie se matriekafskeid. Sy was die mooiste meisie daar en ek was so trots op haar. Sy was hoofmeisie en het geweier om ’n gewaagde rok te dra want dit was volgens haar onvanpas vir ’n leier om so aan te trek. Haar pienk bal rok was die mooiste een daar en sy het soos ’n regte prinses gelyk. My en Nick se trots. Hoe gelukkig was ek om dit te kon sien. Baie gelukkiger as nou.
Nou lê ek hier en kyk na plakboeke van hoe sy dink haar trourok moet lyk. Ek gee maar raad en glimlag as ek moet maar my hart breek. Ek gaan haar nooit sien instap by daai kerk nie. Ek gaan nooit haar liewe man ontmoet nie. Ek gaan nooit kan help as sy naar word in die oggende nie en ek gaan nooit die klein pienk handjies van my eerste kleinkind kan vashou nie. Hierdie dinge breek my. As ek daaraan begin dink pyn my bors so ek kan skaars asemhaal. Dit is alles so onnodig. Ek kon dit verhoed het. Hardkoppige ek.
Daar is een mens aan wie se toekoms ek net nie kan dink nie. My kop kan nie die prentjies vorm nie, want ek sien elke keer net myself saam met hom. Ons sou volgende jaar vir ons vyf en twintigste huweliksherdenking op ’n vaart gegaan het. Ek en Nick op die Sinfonia, kan jy jou dit voorstel. Elkeen met ’n blou drankie in die hand terwyl ons in die Mosambiekse son lê en bedien word. Ek raak opgewonde daaroor en dan besef ek, ek gaan nie. Dalk sal hy nog gaan en my as gaan strooi op ’n eiland maar as hy klaar ’n ander vrou het, sal dit mos nie regverdig wees van my om hulle vakansie so te bederf nie. Aai, hier gaan ek al weer, wat hy doen as ek weg is  is nie my besigheid.
Ek wens net ek kan sy hand langer vashou. Ek wens ek kan sy warm lyf teen myne voel elke aand as ons gaan slaap. Ek wens, ek wens, tevergeefs. Ek is so kwaad. Dit is alles my skuld. Die trane in Nick se oë elke dag as hy vir my hier by die hospitaal kom kuier. Die manier waarop hy my benerige hand saggies druk en wanneer hy my snags op my voorkop soen en na ons huis toe ry om alleen in ons bed te gaan slaap. Dit is alles my skuld. Ek was te trots om net een keer ’n jaar vir ’n ondersoek te gaan. Tien minute een keer ’n jaar sou dit alles kon verhoed. Maar nee, ek is mos nie ’n sieklike mens nie. Ek mors nie my tyd of geld op dokters as ek niks makeer nie. Ek is sterk, ek is onbreekbaar, ek is Marieta en ja, ek het kanker.

20 Oktober 2017

WINTER BY MY

 Dis winter in my agterplaas, ek kyk hoe die blare waai en raas
as hulle ophoop teen die heining om die huis.

Dis winter in my agterplaas,
’n koue windjie kreun en blaas
deur die krake om die vensters in my huis.

Dis winter oral op die plaas,
die gras is vaal en reën is skaars,
maar ek sal nêrens anders graag wil wees as tuis

Waar ’n soppie op die gasstoof kook
en die honde slaap en kaggel rook,
die een plek waar ek aard en hoort, my huis.

20 Oktober 2017