Hennie sluk die laaste van sy swart koffie en gryp sy John Deere
keppie van die tafel af. Die blink strikkie op die uitnodiging wat ook
op die kombuistafel lê vang vir oulaas sy oog en hy vererg hom weereens.
Hoekom daar verdomde skool reünies moet wees gaan sy verstand te bowe
en nou dring sy ma daarop aan dat hy gaan. Hy het skool gehaat. Dag na
dag moes hy luister na die gespot van die gewetenlose rugby span,
“Hendrik en daar lê die eier.” Wat eens ’n trotse familienaam was, het
vir hom ’n las en ’n nagmerrie geword daarom ken almal hom deesdae net
as Hennie.
“Baas Hennie, daai hoender vreet nog steeds haar eiers,” sê William benoud toe Hennie sy kop by die huis uitsteek. Hy krap sy kop met sy wysvinger en sit weer die keppie terug op sy bruin krulle bos. “Kon jy al sien watter een dit is?” vra hy vir William wat bekommerd staan en rondtrap.“Nee baas Hennie, dit kan enige een van die drie henne wees.” Hennie voel hoe die bloed na sy ore vloei. Eers die uitnodiging en nou dit, kan die dag nie maar net oor begin nie. Hy wens hy het eerder in die bed gebly by Vabond. Want die vet weet, daai boerboel het nie een enkele bekommernis nie. “Vandag slag ek al drie daai batterye hoor wat ek vir jou sê.” William se groot oë is bewys dat Hennie nie gewoonlik so knorrig is nie en vir daardie rede trippel hy soos ’n gehoorsame hondjie al agter Hennie aan na die hoender hokke.
As dit windstil is soos vanoggend kan die reuk ’n man nogal onkant vang. Die hoender mis staan soos piramides onder die hokke wat in die lug hang. Die gebou is skoon, die probleem is dat die hoenders net eet, eiers lê en ja, piramides bou. So vroeg na ontbyt kielie die stank jou neus en klou aan jou vel vir die res van die dag. Hennie kyk om en knik vir William sodat hy die drie moontlike slagoffers kan uitwys. “Hierso baas Hennie, dis hulle,” sê hy en wys verklikkend na die drie henne wat kekkel asof hulle ou vriendinne is.
Hennie bekyk die drie van nader en let dan op die klipharde eiergeel by sy voete op die sement vloer. “Watter een van julle drie eet my eiers huh?” Die henne kloek kloek voort asof hulle van niks weet nie. Hulle koeëlronde ogies loer eers van die een kant dan weer van die ander kant af vir hom maar hy kyk hulle stip aan. “Wat dink baas Hennie? Sal ons al drie vat?” William wil die storie so gou as moontlik afhandel want die varke wag vir hulle kos en hy moet nog vandag die ossies ook roskam. “Nie so haastig nie William, ek dink ek gaan hulle net ’n bietjie skrik maak.” William frons en sy ogies trek op skrefies soos hy probeer uitpluis net presies hoe die baas nou gaan maak om ’n hoender skrik op die lyf te jaag. Hennie se ken trek op ’n plooi nes sy oupa Hendrik sin ook maak as hy dink.
“Gee my jou mes,” se Hennie en hou sy hand uit na William.“Baas Hennie bedoel baas Hennie gaan hulle sommer net hier slag?” William sien al die bloed strepe teen die mure om nie eens te praat van die chaos wat gaan uitbreek as die ander henne bloed ruik nie. Hierdie henne is nie dom nie, hulle weet wat gebeur as hulle ophou lê en al is almal in hokke het hy al gesien hoe mal hulle raak as jy ’n droë hen hier uitdra. “Moenie laf wees nie William, gee my net die mes,” sê Hennie en hy hou sy hand die keer met mening uit. William staan nie nader nie maar leun net vooroor as hy die mes aangee. Eintlik wil hy eerder nader aan die deur staan maar baas Hennie sal dink hy is bang so hy bly maar waar hy is.
Hennie vat die mes by William en met ’n plooi tussen die oë kyk hy die drie henne aan. Hulle raak doodstil. Net hulle koppies draai soos hulle eers van links dan van regs na hom kyk. Een van hulle waag dit om ’n dapper “pik” te uiter en Hennie beweeg sy kop vinnig om na haar te kyk. Sy raak ook stil. Skielik ruk hy die mes van agter sy rug uit en swaai die blink lem voor die henne se oë. Die henne “paak paak paak” benoud en spring rond in die klein hokkie dat jy net sien vere waai. Hennie hou aan om die blink lem voor hulle oë te draai en dan vra hy in ’n diep stem, “Wie van julle drie ertjie brein veer koppe eet my eiers?”
Die henne in die hokke langsaan het teen die tyd ook die blink lem gesien en tussen vere wat oral trek en ’n kakofonie van “paak paak paak” groei die piramides aansienlik voor William se oë. Hennie hou die lem regop en sê kwaai aan die drie henne, “Raak weer aan my eiers en dis klaarpraat met julle.” Dan beweeg hy die lem voor sy keel verby om aan hulle te wys net presies wat hy bedoel.William sluk swaar want baas Hennie dink nie mooi nie. Hoe sal ’n hoender dan nou verstaan wat hy sê. Hennie gee die mes terug aan William en skop aan die eiergeel op die vloer. Dan tref dit hom soos ’n hou teen die kop. Hy gaan sy voet neersit soos hy nou met die henne gemaak het. Hy gaan vir sy ma sê hy sal nie reünie toe gaan nie. Vir amper tien jaar al probeer hy oor die vernedering wat die skool hom gebring het kom. Hy is klaar met skool en klaar met die skool se mense. Later vandag as dit teetyd is, gaan daardie uitnodiging drom toe en klaar.
Hy kyk verskrik op na die geraas. “Hendrik! Kom nou dadelik hier,” skree sy ma van haar kamervenster af. Hennie haal sy John Deere keppie af en hardloop dat die stof so staan terug huis toe.
30 Oktober 2017

No comments:
Post a Comment