EK IS MARIETA

Ek wil nie jou simpatie hê nie. Gee dit aan die honger kindertjies in Noord-Afrika of aan een van die vele plaasmoord slagoffers, hulle verdien dit. Ek kon hierdie hele storie voorkom het. Dit is my skuld dat ek nou hier is. Ek kan niemand anders blameer nie al wil ek. Ek sien hoe jy na my kyk, dit is nie nodig nie, maar as jy wel graag iets vir my wil doen dan kan jy na my storie luister.
Nes jy het ek nie gedink so iets sou ooit met my gebeur nie. Ek het elke dag my vitamiene gedrink en drie keer per week gaan draf. Ek eet nie rooivleis nie en suiker word net op naweke geniet. Dit was helaas nie genoeg nie. Moet my asseblief nie jammer kry nie. Ek het ’n vol lewe gehad en is dankbaar vir elke ervaring wat oor my pad gekom het. Veral Nick. Ek en hy was saam op skool en sy plat op die aarde manier het my hart sag gemaak. Om nie eers van daardie potblou oë en dimpels te praat nie.
Deesdae is sy swart hare effe silwer maar hy is vir my nou selfs meer aantrekliker as ooit. Ons troudag was een van die mooiste dae van my lewe. Sonder skoene op die strand, nes ek dit nog altyd wou hê. Nie lank daarna nie is Natasha gebore en ons het na ’n jaar besef dat net die een woelwater genoeg is vir ons. Ek is nie spyt nie, ons kon haar soveel meer gee as wat ons vir twee sou kon gee. Sy is ’n regte klein diva en het vir Nick van dag een af net waar sy hom wil hê.Sy is en sal altyd my prinsessie wees.
Ek onthou daai eerste dag van skool, ek het so hard gehuil sy het net snesies aangegee, tipies sy. Naweke het ons kolwyntjies gebak en sy het hulle versier in pienk en pers, haar gunsteling kleure. Ek hou meer van geel. Daar is ’n geel rok in my kas wat Nick se asem wegslaan, maar nou sal dit soos ’n sak aan my hang. Dis jammer.
Hierdie storie van my laat mens ongelooflik baie terugdink en ek sukkel party dae om my emosies intoom te hou. Soos wanneer ek dink aan Tashie se matriekafskeid. Sy was die mooiste meisie daar en ek was so trots op haar. Sy was hoofmeisie en het geweier om ’n gewaagde rok te dra want dit was volgens haar onvanpas vir ’n leier om so aan te trek. Haar pienk bal rok was die mooiste een daar en sy het soos ’n regte prinses gelyk. My en Nick se trots. Hoe gelukkig was ek om dit te kon sien. Baie gelukkiger as nou.
Nou lê ek hier en kyk na plakboeke van hoe sy dink haar trourok moet lyk. Ek gee maar raad en glimlag as ek moet maar my hart breek. Ek gaan haar nooit sien instap by daai kerk nie. Ek gaan nooit haar liewe man ontmoet nie. Ek gaan nooit kan help as sy naar word in die oggende nie en ek gaan nooit die klein pienk handjies van my eerste kleinkind kan vashou nie. Hierdie dinge breek my. As ek daaraan begin dink pyn my bors so ek kan skaars asemhaal. Dit is alles so onnodig. Ek kon dit verhoed het. Hardkoppige ek.
Daar is een mens aan wie se toekoms ek net nie kan dink nie. My kop kan nie die prentjies vorm nie, want ek sien elke keer net myself saam met hom. Ons sou volgende jaar vir ons vyf en twintigste huweliksherdenking op ’n vaart gegaan het. Ek en Nick op die Sinfonia, kan jy jou dit voorstel. Elkeen met ’n blou drankie in die hand terwyl ons in die Mosambiekse son lê en bedien word. Ek raak opgewonde daaroor en dan besef ek, ek gaan nie. Dalk sal hy nog gaan en my as gaan strooi op ’n eiland maar as hy klaar ’n ander vrou het, sal dit mos nie regverdig wees van my om hulle vakansie so te bederf nie. Aai, hier gaan ek al weer, wat hy doen as ek weg is  is nie my besigheid.
Ek wens net ek kan sy hand langer vashou. Ek wens ek kan sy warm lyf teen myne voel elke aand as ons gaan slaap. Ek wens, ek wens, tevergeefs. Ek is so kwaad. Dit is alles my skuld. Die trane in Nick se oë elke dag as hy vir my hier by die hospitaal kom kuier. Die manier waarop hy my benerige hand saggies druk en wanneer hy my snags op my voorkop soen en na ons huis toe ry om alleen in ons bed te gaan slaap. Dit is alles my skuld. Ek was te trots om net een keer ’n jaar vir ’n ondersoek te gaan. Tien minute een keer ’n jaar sou dit alles kon verhoed. Maar nee, ek is mos nie ’n sieklike mens nie. Ek mors nie my tyd of geld op dokters as ek niks makeer nie. Ek is sterk, ek is onbreekbaar, ek is Marieta en ja, ek het kanker.

20 Oktober 2017

No comments:

Post a Comment